Babette
- X-Meisie
Sy's jonk, sy's cool, sy’s SA se nuwe
Rock sensasie...en sy’s HOT!
Die naam Babette is deesdae op almal se lippe… hou hierdie
donkerkop maar gerus dop, want sy gaan die musiekbedryf nog
met haar kookwater-rockklanke, cool lirieke en treffende stem
verower!
Babette se debuutalbum, X-Meisie, is vars
op die platerak en gaan beslis opgeraap word deur almal wat
van rock en up-tempo klanke hou.
Die album spog met twaalf kraakvars Afrikaanse en Engelse
liedjies en die lirieke en musiek komplementeer Babette se
unieke styl.
"Ek sing van alledaagse situasies waarmee mense kan identifiseer,"
gesels sy oor haar debuutalbum.
Die titelliedjie, "X-Meisie" was
‘n treffer op MK en haar tweede single “Misverstaan”
was ‘n geruime tyd op die MK top10. Haar derde video
“dis okay” is binnekort te sien.
Erns Grundling het in die huisgenoot van
15 Mei 2008 gesê: “Nee kyk, dit sit nie in enigiemand
se broek – of rok! – om die woorde ‘so laat
jou meisie verstaan / jy kom nie huis toe vanaand nie / sy
weet dit nog nie / maar sy’s nou jou eksmeisie’
met soveel gesag en rou sensualiteit te sing nie. Snotkop
en die vervaardiger Mark Kahn het die talentvolle Babette
onder hul vlerk geneem. Sy rock ook met die liedjie Party
vanaand voor sy ‘n mens om haar pinkie draai met die
hartseer ballade Misverstaan. Sy sing met die energie van
rocksterre soos Pink en Avril Lavigne.”
Babette het in Centurion grootgeword en na
skool het sy drama aan die Tshwane University of Technology
studeer. Tydens haar studentejare het sy in dramaproduksies
soos "Veronica Decides To Die", "Still Waiting"
en "Pols" haar merk gemaak.
Sy het van kleins af 'n passie vir musiek
gehad en haar inskrywing aan die Africa Vision liedjieskryfkompetisie
het haar 'n tweede plek besorg. Sy het haar sangtalent geslyp
toe sy sanglesse by Ina Wiegand en Chris Coetzer geneem het.
Sy is ook tans besig om 'n graad in BA Kommunikasiekunde deur
Unisa te studeer.
"Ek hou omtrent van alle genres musiek,
behalwe rave," vertel Babette.
Plaaslik luister sy graag na Karen Zoid en Fokofpolisiekar.
Babette vertel dat sy graag haar eie unieke stempel op die
plaaslike musiekbedryf wil afdruk.
Sit maar stewig op jou stoel wanneer jy Babette
se klanke aanskakel of na een van haar shows gaan luister,
want die girl gaan jou behoorlik laat rock!
Die album is landwyd beskikbaar.
Vir enige navrae skakel Louis du Plessis
– 011 704 1530 of Zinta van der Merwe - 072 434 9454
|